Ken jy die STEM van JESUS?

preview_player
Показать описание
Want baie wandel as vyande van die kruis van Christus. Hulle einde is die verderf, hulle God is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle dink oor aardse dinge
~ Fil 3

Daar word gepraat van hemelse burgerskap. Tog staan hierdie vers as die middelpunt van dinge wat op die aarde gebeur.

Hier word dus van en met mense gepraat in hierdie wêreld. Maar die mense met wie Paulus praat in hierdie wêreld is nie burgers van hierdie wêreld nie, maar van die hemel. Hulle woon hier, maar hulle name is êrens anders ingeskrywe - hoog - in die hemel. Hulle is hier dus vreemdelinge.

Ons behoort aan ‘n gemeenskap, ‘n samelewing wat in die hemele bestaan.

Kan ek my naam hier skraap en daarbo inskrywe? Ons kan nie - maar Christus kan. Paulus sê dit. Vanwaar ons ook ons Verlosser verwag die Here Jesus Christus. Paulus praat ook van mense wie se einde die verderf is, hulle God is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle dink oor aardse dinge.

Hier in die midde van die aardse lewe het Hy sy huis geplant. Hier is Hy begrawe en het die skuld en vloek van sy volk gedra. Hy versoen God met Sy volk. En toe vaar Hy as Hoof op - nie alleen nie, maar hulle name het Hy die hemel ingedra - geskrywe op Sy Hart. En daar is die name nou in die hemel ingeskrywe. Oorgeskrywe in hemelse boeke. En nou is hulle nog op die aarde - maar hulle het vreemdelinge en bywoners geword.

En tog gee Paulus hier een puntjie van selfondersoek. Hy sê: baie wandel anders. En dan bedoel hy nie die heindenwêreld, en nie die Jode nie - maar hy het dit teen die Joodse elemente wat die Christelike kerk ingesypel het. Hulle noem hulleself Christene. Hulle onderhou die besnydenis en die wet en soek daarin saligheid en maak Christus kragteloos. En nou wil Paulus sê: Wie sy saligheid soek uit afkoms, uit besnydenis, uit die uiterlike sakramente, uit die werke van die wet - vir hom is die kruis van geen waarde nie. Die kruis van Christus is sy vyand. Hier moet ons onsself ondersoek. My naam is in die hemel. Daarvoor is Christus en Christus alleen verantwoordelik. My eie waardigheid alles hang uitsluitlik af van die werk van Christus. En nou die vraag - Hoe staan ek teenoor Christus. Het die geregtigheid van God ingestraal in my binneste. Het die lig van Sy majesteit my hart ingeskyn dat ek my ware gestalte ontdek het?

Paulus beskryf hulle hier in hulle aardse gesindheid. Hulle lewe vir hierdie aarde en hulle hoop en vreugde en liefde is vir die dinge wat hier benede is. Nie in die hemel, maar op die aarde is hulle burgerskap. En ons moet gewaarsku wees. Waar soek ons ons geluk en die bevrediging van ons siel?

Is u u Koning in die hemel meer gehoorsaam as die mense? Is u in alles, op die aarde en in die lewe, iemand wat die Here Jesus Christus liefhet met jou hele hart, siel en verstand? Iemand wat kragtens u hemelse burgerskap, hemelse beginsels het.

Sien u, ons hemelse burgerskap geld eenvoudige dinge - alledaagse dinge. Ons naam wat daarbo staan moet hier deur ons gedra, bely én geopenbaar word. As dit so is verloor u lewe nie sy betekenis vir hierdie aarde nie. Dan is u egte mens. Die mens wat aardse dinge bedink is nie die egte mens nie. Maar die egte en ware mense vir hierdie aarde is hulle wat hulle burgerskap in die hemele het.

Leef ek vanuit die hemel, vanuit die krag van ons Koning in hemelse lig, as is, dan sien ek, ook soos ek my arbeid en werk vanuit ‘n hemelse standpunt sien, my beproewinge en kruis en teleurstelling in ‘n hemelse lig. Dan sal ek my siekte en swakheid dra in ootmoed en lydsaamheid. So word my ganse aardse taak geheilig en my aardse stryd omstraal met hemelse glans.

Eenmaal het ‘n heidense hoofman vir Paulus gesê dat hy die Romeinse burgerskap vir ‘n groot som gekoop het. Maar die hemelse burgerskap is nie te koop nie. Ons moet dit net aanneem uit die hand van JESUS Christus en HOM lief he en volg...

En solank daar GELOOF is, is daar HOOP... en solank daar HOOP is, is daar rede om te LEWE

Laat die mond oorloop waarvan die hart dan vol is!
Рекомендации по теме