A Letter To Heaven - Anita (Briel)

preview_player
Показать описание
Die “country tearjerker” is gekomponeer deur Dolly Parton en sy het dit oorspronklik in 1963 opgeneem. Dis later daai jaar uitgereik op die kompilasie album "Hits Made Famous By Country Queens" (Somerset P-19700). 'n Baie jong Dolly lewer op die langspeelplaat ses snitte nl. "It Wasn't God Who Made Honky Tonk Angels", "Making Believe", "A Letter To Heaven", "Release Me And Let Me Love Again", "Little Blossom" en "Two Little Orphans". Die ander ses snitte word gelewer deur Faye Tucker. Dolly het die pragsnit daarna weer nuut opgeneem vir haar 1971 album “Joshua”. Sommige bronne en plate gee foutiewelik David Kleiber (regte naam David Leonard Miller) aan as die komponis. Hy het egter slegs die verwerking van die snit behartig tydens Dolly se oorspronklike opname in 1963, en sy laekoste-etiket, Somerset Stereo Fidelity, het die album toe uitgereik.

Wat eintlik baie snaaks is, is dat die lied daarna bitter min deur ander kunstenaars opgeneem is. Na intensiewe navorsing blyk dit dat die eerste twee “covers” gedoen is deur Suid-Afrikaners! Ja, jy het reg gelees! En toe is daar ook nog boonop drie Afrikaanse weergawes geskep en opgeneem voordat enige oorsese kunstenaar die snit opgeneem het. Sover vasgestel kon word het die Ierse countryster Tracy (regte naam Yvonne Jennings) en haar groep die Grassroots eerste daarna in 1972 in ons spore gevolg. Wat verder ook verstom is dat daar nie een enkele Amerikaanse “cover” opgespoor kan word nie. Nou die groot “openbaring”… niemand het ooit geweet dat die bekende Anita Briel wel in Engels opgeneem het nie, en geen diskografie of bron maak ook melding daarvan nie! Dit is sonder twyfel ook haar enigste Engelse plaat, en die bestaan daarvan het oor die jare in die niet verdwyn.

Anita Briel, of haar uitgewer destyds Renown, het dit verder nog “moeiliker” gemaak vir navorsers in die toekoms deur die plaat (Solus-Sewe - Renown - N 1391) slegs onder die naam Anita uit te gee in November 1965. Ons eie Anita Briel blyk dan die “prestasiehouer” te wees wat gesorg het vir die lied se heel eerste “cover”! Slegs ‘n paar maande later in 1966 het een van ons groot country-koninginne, Maureen Moore, gesorg vir die derde en ‘n absolute skitterende opname van die lied. Daarna is die ou tranetrekker in ons geliefde Afrikaans onderskeidelik opgeneem deur drie van ons groot legendariese sangeresse nl. Millie Van Der Merwe, die jong Petro Coetzee en wyle Mamma Country haarself Sally Vaughn. Die lied is ook later in Nederlands opgeneem deur Harma Van Der Velde en Sanne Denottè.

Hier volg ‘n lys van die Engelse opnames bekend aan my:
DOLLY PARTON (AMERIKA) - 1963
ANITA BRIEL (SUID-AFRIKA) - 1965
MAUREEN MOORE (SUID-AFRIKA) - 1966
DOLLY PARTON (AMERIKA) - 1971
TRACY & THE GRASSROOTS (IERLAND) - 1972
JULIE LYNN (KANADA) - 1973
TRACY WELLS (IERLAND) - 1977
THE FIREBEATS WITH INGJERD HELÉN (NOORWEË) - 1978
MARGO O’DONNELL (IERLAND) - 2006
SALLY O’BRIEN (IERLAND) – 2009

En hier is die anderstalige opnames:
‘N BRIEFIE AAN DIE HEMEL (AFRIKAANS) – MILLIE (& SAKKIE) VAN DER MERWE (SUID-AFRIKA) - 1966
‘N BRIEFIE NA DIE HEMEL (AFRIKAANS) – PETRO COETZEE (SUID-AFRIKA) - 1967
DIE BRIEFIE (AFRIKAANS) – SALLY VAUGHN (SUID-AFRIKA) - 1968
BRIEF NAAR DE HEMEL (NEDERLANDS) – HARMA VAN DER VELDE (HOLLAND) - 1981
BRIEF NAAR DE HEMEL (NEDERLANDS) – SANNE DENOTTÉ (BELGIË) – 1992
BRIEFIE AAN DIE HEMEL (AFRIKAANS) – THELMA LABUSCHAGNE (SUID-AFRIKA) – 2020
Рекомендации по теме